Finlo Aansoekvorm

Projekte


Onderwerpe vir spesiale finansiering

Nóg navorsingsidees

finlo

Fonds vir Innovasie en Navorsing in Leer en Onderrig (FINLO)

In lyn met die Strategie vir Leer en Onderrig het die US in 2005 die Fonds vir Innovasie en Navorsing oor Leer en Onderrig (FINLO) gestig ten einde innovasie in, en refleksie oor onderrig en leer aan te moedig. Die fonds skep die geleentheid vir dosente om innoverings uit te voer, effektiewe praktyke en prosesse te evalueer en om uitdagings, oplossings en neigings in die leer- en onderrigveld te ondersoek. Verder skep die fonds ook 'n meganisme vir die bekendmaak van navorsingsresultate wat gerig is op die verhoging van die kwaliteit van onderrig en leer. Enige dosent, groep dosente of Sentrum verantwoordelik vir onderrrig en leer mag aansoek doen vir die toekenning van fondse.

FINLO toekennings word twee maal per jaar gemaak deur 'n subkomitee van die Komitee vir Leer en Onderrig (KLO). Aansoeke tot 'n maksimum van R45 000 word befonds. Alle aansoeke wat ontvang word, word deur die komitee oorweeg:

  • Dr Brenda Leibowitz, Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL), bleibowitz@sun.ac.za
  • Dr Faaiz Gierdien, Kurrikulumstudies, Fakulteit Opvoedkunde, faaiz@sun.ac.za
  • Professor Ronel du Preez, Vise-Dekaan, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, rdp@sun.ac.za
  • Professor Juanita Bezuidenhout, Departement Anatomiese Patologie, jbez@sun.ac.za
  • Professor Ashraf Kagee, Departement Sielkunde, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, skagee@sun.ac.za
  • Mev Nicoline Herman, Senior Adviseur, SOL, nherman@sun.ac.za
  • Mev Jean Lee Farmer, Adviseur, Sentrum vir Onderrig en Leer, jeanlee@sun.ac.za

Sluitingsdatums vir aansoeke:
17 Mei 2013 en 15 November 2013.

E-pos u voltooide aansoekvorms aan: finlo@sun.ac.za. Vir navrae, kontak Jean Lee Farmer by (021) 808 2956.

Hoe om aansoek te doen vir FINLO fondse:

Ontwikkel 'n idee, praat met kollegas of kontak 'n FINLO komiteelid. Lees die riglyne en voltooi die aansoekvorm.

Dit is belangrik om aandag te skenk aan die riglyne soos deur die Senaat goedgekeur, sien finloreglement veral Afdeling 5, "Waarvoor die fondse gebruik kan word" en Afdeling 7, "Goedkeuring van aansoeke".


Onderwerpe vir spesiale finansiering

Verlengde graadprogramme

Die Fonds vir Innovasie en Navorsing oor Leer en Onderrig (FINLO) het weereens geld bewillig vir verdere leer en onderrignavorsing en innovasie met betrekking tot verlengde graadprogramme (VGP’s). Die fonds maak voorsiening vir die verkryging van tegnologie, programmatuur of ander onderriginstrumente wat deel kan uitmaak van vernuwende onderrigpraktyk. As alternatief kan die geld aangewend word om onderrighulp te kontrakteer, sodat die dosent meer tyd aan ʼn bepaalde innovasie kan bestee. Wat navorsing betref, moedig die fonds die evaluering en ondersoek van leer- en onderrigprobleme aan (hetsy probleme met betrekking tot die dosent se eie dissiplinêre konteks of algemener kwessies wat VGP-studente raak).

Terug


Taal in die klaskamer – FINLO bied ʼn unieke geleentheid

Hoe het die taalkwessie jou onderrigpraktyk beïnvloed? Voor watter uitdagings kom jy in die klaskamer te staan as gevolg van die uiteenlopende taalbehoeftes of -verwagtinge van jou studente, en selfs van die instelling? In die laaste klompie jare moes akademici aan die Universiteit Stellenbosch (US) hul praktyk eers na die T-opsie, en meer onlangs na ʼn parallelmediumbenadering skik. Baie het dit op vindingryke en suksesvolle maniere reggekry, terwyl ander steeds geskikte benaderings ondersoek. Hoe dit ook al sy, die unieke situasie aan die US hou ʼn wye reeks geleenthede vir navorsing en deeglike besinning oor ons leer- en onderrigpraktyk in, en FINLO bied die finansiële steun daarvoor. Met die sluitingsdatum vir finansieringsaansoeke om die draai (10 November 2010), nooi ons graag alle US-akademici om ʼn bepaalde aspek van taal in die klaskamer as ʼn moontlike navorsingsonderwerp te oorweeg. Temas soos onderrig volgens die T-opsie, die skryfintensiewe kurrikulum, die ontwikkeling van tweetaligheid, die integrasie van tegnologiegebruik ter ondersteuning van uiteenlopende taalbehoeftes, en die beoordeling van nuwe benaderings is maar ʼn paar voorbeelde van die magdom beskikbare onderwerpe.

Terug


Nóg navorsingsidees

ʼn Kurrikulumvernuwingsprojek ter bevordering van ʼn pedagogie van hoop

maties

Vir hierdie finansieringsronde ontvang FINLO graag voorstelle met betrekking tot die konsep “Maties vir Mzantsi”. ‘Mzantsi’ is hoe Suid-Afrika in die volksmond bekend is. “Maties vir Mzantsi” wil ʼn pedagogie van hoop in die hand werk deur toe te sien dat akademiese programme aan ons Universiteit US-gegradueerdes beter voorberei om die uitdagings waarmee ons land en sy mense te kampe het, die hoof te bied. Aansoeke om hierdie finansieringstroom behoort aan te dui hoe die voorgestelde innovasie of navorsing huidige en/of toekomstige gegradueerdes beter hiervoor sal toerus. Ons oorweeg veral graag voorstelle wat in pas is met die Universiteit se gekose fokusgebiede ingevolge die Oorhoofse Strategiese Plan 2008.

Terug


Die bevordering van voorgraadse navorsing: Die gebruik van e-tydskrifte

Die toename in e-tydskrifte

Voorgraadse navorsing en publikasie is ʼn toenemende verskynsel in hoër onderwys. In Amerika het die Boyer-kommissieverslag byvoorbeeld reeds in 1998 die “radikale heropbou” van hoër onderwys deur die aanvaarding van ʼn “navorsingsgegronde” benadering tot voorgraadse leer, bepleit. Kenners meen dat sodanige leer ook geleenthede om navorsing te versprei, gewoonlik in die vorm van publikasie in voorgraadse vaktydskrifte, verg. Terwyl dié praktyk oënskynlik reeds diep in Amerikaanse hoër onderwys ingewortel is, het ook die Verenigde Koninkryk (VK) onlangs ʼn ongekende vermeerdering in voorgraade navorsingsprogramme en publikasies beleef. Daar is reeds ’n aantal aktiewe voorgraadse e-tydskrifte in die VK (sien onderstaande skakels vir voorbeelde van ’n paar). Dié tydskrifte wissel van dissiplinespesifieke publikasies (soos die Universiteit van Leeds se Biolog E, wat bepaald op Biowetenskap konsentreer) tot tydskrifte wat alle dissiplines insluit (soos Reinvention van die Universiteit van Warwick).

ʼn Paar voordele van navorsingsgegronde leer en voorgraadse publikasie

Navorsingsgegronde leer en die geleentheid om te publiseer hou 'n aantal leervoordele in. Eerstens bied dit die student die geleentheid om op dieselfde manier as akademici te leer en in ʼn bepaalde dissipline kennis te skep. Tweedens leer studente akademiese waardes terwyl hulle hul werk vir publikasie voorberei. Hierdie proses is al beskryf as die ontwikkeling van die student as vakkundige. Volgens kundiges is dit nie noodwendig belangrik dat die voorgraadse student in voorgraadse publikasies oorspronklike werk lewer nie, maar dat studente die waardestelsel, volwassenheid en bevoegdhede verwerf wat nodig is om in ’n veranderende wêreld sukses te behaal. Deur publikasie in e-tydskrifte kry studente die geleentheid om hulle identiteit as beide leerders en ontluikende vakkundiges te bekragtig. Derdens skep dit die geleentheid vir aktiewe leergemeenskappe in hoëronderwysomgewings. Laastens dien die verspreiding van voorgraadse navorsing in die vorm van publikasie as vertoonvenster vir uitnemendheid in voorgraadse skryfwerk, en kan dit as sulks ʼn waardevolle leerinstrument wees.

Kan e-tydskrifte vir voorgraadse studentenavorsing aan die Universiteit Stellenbosch werk?

Fakulteitspesifieke e-tydskrifte waarin voorgraadse studente hul navorsing kan publiseer en aan hul portuur se oordeel onderwerp, kan navorsingsvaardighede en -vermoëns op voorgraadse vlak help ontwikkel. Die gepubliseerde werk hoef nie noodwendig bykomend tot die vasgestelde kurrikulum te wees nie, aangesien baie fakulteite reeds, as deel van assessering, omvattende navorsing en skryfwerk van hul studente verwag. Terwyl studenteskryfwerk tradisioneel vir samevattende (‘summatiewe’) assessering gebruik word, hou die publikasie van sodanige skryfwerk ook vormende (‘formatiewe’) voordele in, aangesien die voorbereidingsproses vir publikasie hetsy tutor- of dosenteleiding kan insluit.

Voorbeelde van bestaande e-tydskrifte

Verwysings

Hodge, D., Haynes, C., LePore, P., Pasquesi, K., and Hirsh, M. (2008), ‘From Inquiry to Discovery: Developing the Student as Scholar in a Networked World Learning through enquiry Alliance Conference 2008. Accessed from:
Hodge_CETL_2008_keynote.pdf

REINVENTING UNDERGRADUATE EDUCATION: A Blueprint for America’s Research Universities. 1998. The Boyer Commission Report on Educating Undergraduates in the Research University, Stony Brook, State University of New York

Walkington, H. & Jenkins, A. (2008) Embedding Undergraduate Research Publication in the Student Learning Experience: Ten suggested strategies. Brookes e-journal of learning and teaching, 2(3). Available online: Embedding undergraduate Research Publication in the student learning Experience

Terug